Abstract:
Tydens die laaste helfte van die twintigste eeu het die Bybelwetenskaplike wêreld die heilige boek van die Christendom as 'n grondige literêre boek herontdek. Een van die belangrikste struikelblokke wat geopper word deur mense met religieuse besware teen 'n literêre benadering van die Bybel, is dat letterkunde met fiksie vergelyk word. Genoemde beswaar is gegrond op 'n wanbegrip van letterkunde. 'n Literêre teks word nie deur die historisiteit of fiktiwiteit van die materiaal geraak nie. Hierdie studie kom onder meer tot die gevolgtrekking dat die Bybelskrywers nie persoonlikheidslose outomate was nie, maar vaardige vakmanne wat skeppende werk van hoogstaande gehalte voortgebring het. Dit word egter erken dat alle geskrewe materiaal (insluitend bybelse) nie aan 'n wetenskaplike oorweging van “letterkunde” voldoen nie. 'n Literêre benadering misken ook nie die Godgesentreerdheid en bonatuurlike oriëntasie van die Bybel nie. Hierdie studie voer aan dat die outeur van die Simson-narratief (die basis van die navorsing) literêre elemente en motiewe van die letterkunde van die Antieke Mediterreense wêreld aangewend het ter ondersteuning van die teologiese program van Rigters 2:6-3:6. Met verwysing na die Ou-Testament, sou dit 'n denkfout wees om aan te neem dat die pre- Hellenistiese Israeliete in isolasie met die nasies van die Antieke Mediterreense wêreld geleef het. Voortspruitend hieruit vergelyk hierdie studie die Deuteronomistiese geskiedskrywing in die algemeen en in die besonder die Simson-narratief met bekende tekste van Mesopotamië, Sirië- Palestina (Oegarit), Anatolië, Egipte en die Egeïese gebied. Genoemde vergelyking wend die gebruiklike middele aan wat letterkundiges vir literêre analise gebruik. Hierdie navorsing sluit met die volgende waarnemings: • Dat die outeur van die Simson-narratief deur die pre-Israelitiese letterkunde asook dié van sy eie tyd beïnvloed was. • Dat kennis en erkenning van die letterkunde van die Simson-narratief bydra tot die betekenis asook genieting van een van die mees paradoksale verhale in die letterkunde.